Jimmy Kimmel terug op die lug ná hy beweer het "MAGA-groep" trek politieke voordeel uit moord op Charlie Kirk

Kimmel het ook die reaksie van president Donald Trump op Kirk se dood bespot deur dit te vergelyk met hoe 'n vierjarige 'n goudvis se dood sou hanteer.

23 September 2025

Jimmy Kimmel (Foto: Jimmy Kimmel/YouTube)

Die Amerikaanse komediant, Jimmy Kimmel, is terug op sy laatnag­geselsprogram ná 'n kort opskorting weens opmerkings oor die dood van die Charlie Kirk. Kimmel se opskorting het gevolg nadat hy tydens 'n monoloog op 15 September die "MAGA-groep" daarvan beskuldig het dat hulle poog om politieke voordeel uit die sluipmoord op Kirk te trek. Kimmel het ook die reaksie van president Donald Trump op Kirk se dood bespot deur dit te vergelyk met hoe 'n vierjarige 'n goudvis se dood sou hanteer.

Die opskorting van Kimmel se program deur Disney, wat die netwerk ABC besit, het 'n landswye debat oor vryheid van spraak ontketen. Die federale TV-reguleerder, die Federal Communications Commission (FCC), het gedreig om ABC se uitsaailisensie te herroep. President Trump het Kimmel se opskorting verwelkom en voorgestel dat sekere TV-netwerke hul lisensies moet verloor weens negatiewe dekking van sy administrasie.

Intussen het sowat 200 000 mense die gedenkdiens van Charlie Kirk by die State Farm-stadion in Glendale, Arizona bygewoon. President Trump het Kirk as 'n martelaar vir Amerika se vryheid beskryf, terwyl Kirk se weduwee, Erika, tydens haar toespraak gesê het dat sy haar man se moordenaar vergewe het. Sy het beklemtoon dat daar geen geweld of opstande ná sy dood was nie, maar eerder 'n herlewing, iets waarvoor haar man altyd gebid het.

Tyler Robinson, die 22-jarige beskuldigde in die moord op Kirk, is van moord met verswarende omstandighede en ander misdrywe aangekla. Die staatsaanklaer van Utah, Jeff Gray, het aangekondig dat hy die doodstraf vir Robinson sal vra. Robinson bly in aanhouding sonder die opsie van borgtog.

Kommentaar