Britse vrou sterf aan hondsdolheid ná kontak met hond in Marokko

19 Junie 2025

Illustrasie van die virus wat hondsdolheid veroorsaak. (Foto: www.scientificanimations.com)

'n 59-jarige vrou uit Barnsley, Suid-Yorkshire in die VK het op 11 Junie 2025 in 'n hospitaal in Sheffield aan hondsdolheid gesterf nadat sy in Februarie tydens 'n vakansie in Marokko deur 'n rondloperhond gekrap is. Die Britse Gesondheids­veiligheids­agentskap (UKHSA) het op 18 Junie bevestig dat die vrou, Yvonne Ford, die dodelike virussiekte opgedoen het ná ligte kontak met die hond. Dit is die eerste gerapporteerde geval van hondsdolheid in die VK sedert 2012, toe 'n vrou gesterf het ná 'n hondebyt in Suid-Asië.

Volgens die UKHSA is daar geen risiko vir die breër publiek nie, aangesien daar geen gedokumenteerde bewyse is dat hondsdolheid tussen mense oorgedra word nie. Dr. Katherine Russell, hoof van opkomende infeksies en soönose by die UKHSA, het gewaarsku dat reisigers na lande waar hondsdolheid voorkom, soos dele van Asië en Afrika, versigtig moet wees rondom diere en moet voor hul reis ondersoek instel of 'n inenting teen hondsdolheid nodig is.

The Independent het berig dat Yvonne Ford se familie op sosiale media gedeel het dat sy "heel lig" deur 'n hondjie gekrap is en nie gedink het dit sou skade veroorsaak nie. Haar dogter, Robyn Thomson, het in 'n Facebook-plasing gesê dat haar ma se simptome twee weke gelede met 'n hoofpyn begin het, wat later vererger het tot sy nie kon loop, praat, slaap of sluk nie.

Die UKHSA het aangedui dat daar jaarliks sowat 400 gevalle van diere met hondsdolheid in Marokko is, en dat ongeveer 18 mense elke jaar daar aan die siekte sterf, volgens Wêreld­gesondheids­­organisasie­­data. Hulle het reisigers aangeraai om onmiddellike aksie te neem indien hulle gebyt of gekrap word: "As jy deur 'n dier gebyt, gekrap of gelek word in 'n land waar hondsdolheid voorkom, moet jy die wond of plek van blootstelling met baie seep en water was en onmiddellik mediese advies inwin om na-blootstellingsbehandeling te kry om hondsdolheid te voorkom," het Russell in 'n persverklaring gesê.

Noue kontakte van Ford en gesondheids­werkers word tans geëvalueer en waar nodig as 'n voorsorgmaatreël ingeënt, aldus die UKHSA. Die agentskap het ook beklemtoon dat hondsdolheid nie in wilde of huishoudelike diere in die VK sirkuleer nie, hoewel sommige vlermuise 'n hondsdolheidverwante virus kan dra.

The Guardian het berig dat die UKHSA reisigers aanspoor om kontak met diere te vermy en die NHS-webwerf of UKHSA se pamflet oor hondsdolheidrisiko's vir meer inligting te raadpleeg.

Kommentaar