Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het tydens sy party se byeeenkoms op 16 Junie 2025 in die Koning Zwelithini-stadion in Umlazi, Durban "Skiet die Boer" gesing en ontken dat daar 'n volksmoord in Suid-Afrika plaasvind. Die byeenkoms het saamgeval met Konsentrasiekampdag, waarop Afrikaners die Verskroeideaardebeleid en konsentrasiekampe van die Tweede Vryheidsoorlog herdenk, asook Jeugdag in Suid-Afrika. Talle seremonies en byeenkomste het landwyd plaasgevind om die pyn en opoffering van duisende vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog te gedenk, met herdenkings in plekke soos Vereeniging, Burgershoop, Kimberley, Irene, Vyfhoek, Nylstroom en Turffontein. In sy toespraak het Malema skerp kritiek teen die Amerikaanse president Donald Trump, tegnologiemagnaat Elon Musk en Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa uitgespreek, terwyl hy die EFF se standpunt oor grondeienaarskap herbevestig het.
Malema het die bewerings van 'n volksmoord as ongegrond afgemaak en gesê: "Daar is geen wit volksmoord nie; niemand wil wit mense doodmaak nie." Hy het die lied "Skiet die Boer" verdedig en benadruk dat dit nie deur hom geskep is nie, maar deel is van Suid-Afrika se historiese erfenis. "Die lied 'Skiet die Boer' is nie deur Julius Malema geskep nie. Dit is 'n strydlied wat deur ons vaders en moeders tydens die moeilike dae van apartheid gesing is, en niemand sal ons keer om dit te sing nie. Dit is ons erfenis, en ons sal dit met alles verdedig," het hy verklaar.
Die EFF-leier het Trump en Musk daarvan beskuldig dat hulle bang is vir sy party en dat hulle Suid-Afrika se soewereiniteit probeer ondermyn. Hy het spesifiek na Trump se onlangse optrede verwys waar hy tydens 'n vergadering met Ramaphosa in die Withuis 'n video gewys het van Malema wat "Skiet die Boer" sing, en gevra het hoekom Malema nie gearresteer is nie. Malema het Ramaphosa se reaksie as swak bestempel en gesê: "Ramaphosa het gesê hy sal nooit deur Trump geboelie word nie, maar toe hy in die Oval Office aankom, het hy soos 'n klein seuntjie gebewe. Ramaphosa het die waardigheid van hierdie land internasionaal vernietig, en ons moet die waardigheid van hierdie land herstel."
Malema het ook Musk se Starlink-dienste gekritiseer en belowe dat die maatskappy nie in Suid-Afrika sal sake doen solank die EFF bestaan en Starlink nie aan die land se Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE)-wette voldoen nie. "Elon Musk se Starlink sal nooit hier werk as dit nie ons swart eienaarskapsregulasies nakom nie," het hy gesê.
Die toespraak het ook op die EFF se verbintenis tot grondonteiening sonder vergoeding gefokus. Volgens Malema het wit Suid-Afrikaners grond gesteel en moet hulle dit teruggee: "Ons sê vir wit mense, laat ons in vrede saamleef, maar ons kan nie in vrede saamleef as julle weier om terug te gee wat van ons gesteel is nie," het hy verklaar. In teenstelling hiermee het sprekers tydens Konsentrasiekampdagherdenkings die belangrikheid van erfenis en identiteit beklemtoon. Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), het byvoorbeeld gesê: "Elke krans wat gelê is, elke gebed en elke storie wat vertel is, is 'n getuienis van 'n volk se onblusbare gees." Jan-Danie Malan, FAK-kultuurnetwerkkoördineerder, het bygevoeg: "Ons staan op die grond van herinnering, van opoffering en van identiteit. Hierdie dag herinner ons daaraan dat vryheid 'n duur prys het – een wat ons nooit mag vergeet nie."
♦️Must Watch♦️
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) 16 Junie 2025
The President and Commander in Chief @Julius_S_Malema ending his address at the #EFFJune16Rally with a revolutionary song.
Shoot to kill, Nyamazane! pic.twitter.com/ZVvbFqKxSk