Kinderbystandbetalings in Minnesota bevries na onthullings van bedrog by dagsorgsentrums

Die Amerikaanse departement van gesondheid en menslike dienste het alle federale kinderbystandbetalings aan Minnesota opgeskort na onthullings van grootskaalse bedrog by dagsorgsentrums.

31 Desember 2025

Ilhan Omar en Pramila Jayapal in 2019. (Foto: Wikimedia Commons)

Die Amerikaanse departement van gesondheid en menslike dienste het alle federale betalings vir kinderbystand aan die deelstaat Minnesota bevries. Hierdie besluit volg op ondersoeke na beweerde bedrog, waartydens miljoene dollars se belastingbetalersgeld na bewering aan nie-operasionele of bedrieglike dagsorgsentrums bewillig is. Die adjunksekretaris van die departement, Jim O'Neill, het volgens OANN aangedui dat die departement reeds drie stappe geneem het in reaksie op die bewerings.

O'Neill het op X verklaar dat alle betalings van die administrasie vir kinders en gesinne nou 'n volledige motivering, sowel as kwitansie- of fotobewys, vereis voordat geld aan deelstate oorbetaal sal word. Hy het ook 'n omvattende oudit by goewerneur Tim Walz geëis, insluitend bywoningsrekords, lisensies, klagtes, ondersoeke en inspeksies. Die departement het boonop 'n spesiale toepassing bekendgestel om bedrog aan te meld.

Die onafhanklike joernalis Nick Shirley se ondersoek het op dagsorgfasiliteite gefokus wat deur Somaliës besit word en wat miljoene in staatsubsidies ontvang het, dog volgens sy verslag dikwels leeg of gesluit is. Kristi Noem, sekretaris van binnelandse veiligheid, het bevestig dat federale agente na Minneapolis gestuur is om die bewerings van bedrog te ondersoek.

In 'n ou video wat weer opgeduik het, het goewerneur Walz gesê dat sy deelstaat dit vir mense makliker gemaak het om dagsorgondernemings te begin as deel van beleid oor gesins- en mediese verlof. Hy het beklemtoon dat Minnesota as een van die beste deelstate op hierdie gebied beskou word, maar dat daar steeds krisisse in die sektor voorkom.

Shirley se verslag het wyd opslae gemaak nadat hy fasiliteite besoek het wat miljoene in federale bystand ontvang het, sonder enige sigbare tekens van kinders. Die "Quality Learing Center" in Suid-Minneapolis is veral op sosiale media bespot omdat "learing" op die buitebord verkeerd gespel is (die korrekte spelling is "learning", wat "om te leer" beteken). Volgens Breitbart is die bord ná Shirley se video reggemaak, hoewel die adres bo die deur steeds as "Nicolet" in plaas van "Nicollet" gespel was.

'n Werknemer van die Quality Learning Center het aan The New York Post verduidelik dat die spelfout aan die grafiese ontwerper toegeskryf word en gesê dat dit intussen reggestel is. Teen Maandag was die nuwe naambord aan die gebou, terwyl Shirley se oorspronklike video reeds meer as 128 miljoen kyke op X gehad het.

Kommentaar