'n Video wat op Kersdag in die Oos-Kaap opgeneem is en later op sosiale media versprei is, het wyd kommer en verontwaardiging ontlok. In die 22 sekondes lange video is te sien hoe kinders, vermoedelik tussen vier en 12 jaar oud, uit drankbottels drink terwyl volwassenes in die agtergrond dans en speel.
Al is dit nie seker of die bottels werklik alkohol bevat nie, het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling die gebeure as onaanvaarbaar bestempel. Sandy Godlwana, woordvoerder van die departement, het aan IOL gesê dat hulle geskok is oor die voorval en bevestig dat 'n ondersoek reeds aan die gang is. Sy het genoem dat die departement daartoe verbind is om diegene wat die gedrag aanmoedig, tot verantwoording te roep. Die gemeenskap is versoek om inligting oor die voorval te verskaf.
Bukiwe Fanta, Oos-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het geseê dat maatskaplike werkers besig is om die kinders en volwassenes op die video te identifiseer en die omstandighede rondom die voorval vas te stel. Sy het gesê dat die gedrag ernstige risiko's vir kinders se ontwikkeling, veiligheid en gesondheid impliseer. Dit is volgens haar veral kommerwekkend dat volwassenes die gedrag blykbaar aanmoedig of toelaat.
Fanta het beklemtoon dat volwassenes wat kinders aan alkohol blootstel, aanspreeklik gehou kan en sal word. Sy het die publiek versoek om kennis te gee indien hulle weet waar die voorval plaasgevind het. Sy het gesê dat die insident die gevaar van volwassenes se invloed op kinders beklemtoon.
Die departement het aangedui dat hulle van voornemens is om veldtogte oor die gevare van alkoholverbruik onder minderjariges uit te brei, om gesinne en gemeenskappe aan te moedig om gesonde aktiwiteite en positiewe gedrag te bevorder.
Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Nokuzola Sisisi Tolashe, het die publiek versoek om gedurende die feesseisoen nie alkohol of dwelms te misbruik nie en het spesifiek die jeug aangemoedig om eerder deel te neem aan gesonde, opvoedkundige aktiwiteite. Sy het gesê dat alkohol en dwelms geweld aanwakker, tot padsterftes lei en hoop in die jeug se toekoms kortwiek.